Elke plaas het sy eie uitdagings, maar daar is sekere goue reëls wat deur die geslagte oorgedra word. Een daarvan is die bekende “vuurhoutjieboksie-reël”: ’n boer wat elke dag sy vuurhoutjieboksie by die veeposte gaan skud, is ’n boer wat weet wat in sy kudde aangaan. Hierdie eenvoudige beeld het ’n dieper waarheid: suksesvolle boerdery berus op waarneming en betrokkenheid op grondvlak.
Maar wat gebeur wanneer tegnologie jou help om daardie vuurhoutjieboksie slimmer te skud? Dis presies die ervaring van Marco Grobler van JGS Agri in die Ermelo-omgewing. Marco, saam met sy pa, oom en neef, boer met mielies, sojabone, nierbone, Drakensberger-beeste en wol Merino-skape. By NAMPO het hierdie familieboerdery die eerste keer van HerdTrack gehoor, en met die steun van die ouer geslag is daar besluit om die stelsel vanaf Junie vanjaar te implementeer.
Een van die groot redes vir dié stap was ’n alledaagse uitdaging: foutiewe veegetalle wat deur arbeiders deurgegee is. Telwerk was onbetroubaar en tydrowend. “Ons het besef dat ons ’n stelsel benodig wat akkurate inligting vinniger kan gee as die proses om ’n werker elke dag na veeposte toe te stuur,” verduidelik Marco.
Die vraag ontstaan natuurlik: maak HerdTrack jou nie ’n tipiese “bakkie-boer” wat net rondry en knoppies druk nie? Marco antwoord skertsend dat HerdTrack hom juis minder in sy bakkie sit, omdat hy nie meer kilometers hoef af te lê net om vee te tel nie. Op ’n ernstiger noot beklemtoon hy dat HerdTrack hom nie verder van sy boerdery losmaak nie, maar eerder toerus om meer “hands on” te wees. “Jy kry vinniger die regte inligting, sodat jy kan besluit waar jou voete en jou oë regtig nodig is.”
Dis hier waar die vuurhoutjieboksie-reël ’n nuwe betekenis kry. Die oorspronklike storie lui dat ’n boer met sy buurman die goue reël gedeel het om elke dag ’n vuurhoutjieboksie te neem en dit by elke veepos te skud. Die buurman het dit getrou gedoen en kort voor lank kom vertel dat sy boerdery verbeter het, alhoewel hy nie verstaan waarom nie. Die antwoord was eenvoudig: hy was elke dag teenwoordig en het geweet wat aangaan. HerdTrack vervang nie daardie teenwoordigheid nie, maar gee jou die vermoë om die spreekwoordelike vuurhoutjieboksie digitaal te skud. Só kan jy vinnig sien waar alles normaal verloop en jou tyd slim spandeer op die plekke waar iets uit pas is.
Vir Marco lê die grootste voordeel van HerdTrack presies hierin: akkurate inligting, onmiddellik beskikbaar. “Ek kan in die oggend dadelik die data kry wat ek nodig het. Boerdery is dikwels krisisbestuur, maar met HerdTrack kan ek al vroeg sien wat my aandag gaan nodig hê en my dag daarvolgens beplan.” Die stelsel werk eenvoudig vir JGS Agri: beeste wat op oesreste wei, beweeg op pad na die waterkrip deur ’n hek waar die HerdTrack-skandeerder geplaas is. Elke dier se beweging word vasgevang, en die resultate wys onmiddellik op die stelsel. In plaas daarvan om te wonder of die getalle reg is, of om ure te mors met kontroles, het Marco binne minute ’n volledige prentjie van sy kudde.
Nog ’n groot voordeel, volgens hom, is die besparing van arbeid. Op plase waar min arbeiders is en veeposte moeilik daagliks besoek kan word, maak dit ’n tasbare verskil. Die stelsel is ook gebruikersvriendelik en gehard genoeg vir plaasomstandighede. Met al die nodige hardeware wat saam kom, sê Marco dat dit maklik is om op te stel en volhoubaar in te span.
Marco se raad aan boere wat nog wonder of HerdTrack die belegging werd is, is: “Dis ’n stelsel wat vir jou akkurate inligting op jou vingerpunte gee. Jy bly steeds betrokke op grondvlak, maar nou is jy beter toegerus om jou tyd en jou energie op die regte plekke te gebruik. Boonop help HerdTrack om rekord te hou van belangrike data, soos jou diere se gesondheid en meer.”
Wanneer die vuurhoutjieboksie-reël en moderne tegnologie hande vat, kry ’n boer die beste van twee wêrelde: die wysheid van tradisie en die krag van data. HerdTrack help jou nie om minder te boer nie – dit help jou om slimmer te boer.
~ Saamgestel deur René van der Vyver

