“Jy kan nie bestuur wat jy nie kan sien nie”:

ʼn boer vertel hoe HerdTrack op sy plaas werk

SP Smith boer in die Bethal-distrik van Mpumalanga met Bovelder-beeste. Hy het lank gesoek na ’n bestuurstelsel wat akkuraat en betroubaar is, en het uiteindelik HerdTrack gevind. Wat sy keuse onderskei, is die stelsel wat prakties is vir die realiteite van ’n Suid-Afrikaanse plaas.

Wat het jou laat besluit om HerdTrack vir die eerste keer te probeer?

Een van die grootste redes vir sy belangstelling was die behoefte aan beter sigbaarheid van sy kudde. Hy het reeds van geofencing gebruik gemaak, maar dit bied net gedeeltelike monitering omdat slegs ’n paar diere halsbande dra. “Ek soek nie iets wat 90% akkuraat is nie. Ek soek 100%,” sê hy. “HerdTrack kan byvoorbeeld vir my regstreeks sê dat 99 diere by die waterkrip is – dan weet ek een van die 100 is weg en ek kan dadelik reageer.”

Vir hom is die waarde van RFID-tegnologie onvermydelik in die toekoms. Die feit dat HerdTrack se oorplaatjies soos gewone oorplaatjies lyk, maar tot 10 meter opgetel kan word deur die skandeerder, was ’n groot pluspunt. Hy gebruik ook HerdTrack se sagteware om waarskuwings te programmeer vir spesifieke diere.

Hoe het jy die implementering en aanvanklike gebruik daarvan ervaar?

“Maklik,” sê hy. “Net opgestel en vasgebout en daar gaan jy.” Die stelsel kan boonop maklik verskuif word – “een persoon kan dit doen, sonder enige hulp.”

SP vertel wel dat daar aan die begin dae was wat die stelsel nie 100% akkuraat getel het nie, maar dat die probleem vinnig opgelos is. “Ek het die HerdTrack-span gekontak en hulle het gehelp. Die opstel is baie belangrik – die skandeerder moet naby aan ’n plek wees waar die diere almal bymekaar kom, soos ’n waterkrip. Dan tel hy 100% akkuraat.”

HerdTrack se ultra-hoëfrekwensie RFID-oorplaatjies kan tot ’n radius van 10 meter deur die skandeerder opgetel word. Die rede waarom dit nie verder kan optel nie, is omdat daar geen batterye in die oorplaatjies is nie; hulle kry hul energie van die sonpaneel by die skandeerder. Dit maak die stelsel koste-effektief sonder om akkuraatheid in te boet. Vir boere wat konstant somme moet maak, is dit ’n groot voordeel.

Hoe gebruik jy HerdTrack dag-tot-dag op jou plaas?

In sy daaglikse bestuur help HerdTrack hom om vinnig, akkuraat en doelgerig te reageer wanneer daar iets verkeerd is. Die stelsel vervang nie die voete op die grond nie, verduidelik hy, maar dit maak die voete slimmer. “Dit help om meer geteikende reaksies te hê waar die probleme opduik.”

Die grootste waarde vir hom? “Die stelsel is 100% akkuraat as hy reg opgestel is. As ’n bees kom water drink, weet jy hy is daar. Die skandeerder mis nie ’n plaatjie nie.”

SP vertel ook van ʼn keer wat sy kudde op huurgrond geloop het waar die HerdTrack-stelsel opgestel was… Toe hulle as gevolg van ’n waterprobleem vir twee dae oorkant die pad geskuif word – na ’n kamp sonder die stelsel – is tien beeste gesteel.

HerdTrack is nie ’n sekuriteitstelsel nie, maar SP se ervaring illustreer iets belangrik: sigbaarheid skrik mense af wat in die donker wil werk. Die stelsel se vermoë om vee konstant te tel en bewegingsdata onmiddellik beskikbaar te maak, bring ’n vorm van gemoedsrus wat op sekuriteit dui – al is dit nie waarvoor dit ontwikkel is nie.

Wat sou jy sê vir ’n boer wat nog wonder of HerdTrack die moeite werd is?

“Met bek-en-klouseer is positiewe identifisering al hoe belangriker. As jy kan wys waar die dier wanneer geloop het, is dit baie goed.”

SP vertel hoe waardevol dit is wanneer hy bees vir die voerkraal laai en onmiddellik ’n dier se geskiedenis kan wys – weiding, veearts rekords, beweging. Sommige voerkrale is selfs bereid om vir die RFID-oorplaatjies op jou diere te betaal. Selfs al doen hulle nie, is HerdTrack-plaatjies herbruikbaar: “Jy knip net die oorplaatjie af, kry ’n nuwe pennetjie en gebruik hom weer.”

Hy beklemtoon ook: “Die HerdTrack-span is altyd bereid om te help. Hulle is oop vir voorstelle en tree daadwerklik op.”

SP Smith se verhaal bevestig: in vandag se boerdery kan ’n mens nie bestuur wat jy nie kan sien nie. Met HerdTrack het hy ’n stelsel gevind wat sy kudde sigbaar, sy besluite vinniger en sy reaksies meer geteiken maak.

~ Saamgestel deur René van der Vyver

0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop