HerdTrack se hardeware is hard – gebou vir plaasomstandighede. Die saameenlopende sagteware is waardevol – vir veemonitering, veebestuur en naspeurbaarheid. Hierdie plaasbestande hardeware word aangedryf deur sonkrag en is gekoppel aan intelligente sagteware wat inligting na insig omskakel.
Boonop is ons voortdurend besig om die sagteware verder te ontwikkel en te verbeter sodat veebestuur nog meer effektief word. Elke RFID oorplaatjie wat geskandeer word, is ’n bousteen in die stelsel, maar die nuutste opdaterings bied nog meer funksionaliteit.
Wat bly dieselfde?
Die kern van HerdTrack bly onveranderd: boere kry ’n regstreekse, holistiese oorsig van hul kudde deur die skandering van RFID-oorplaatjies. Dit beteken outomatiese aantekening van diere se beweging en digitale aantekening van diere se geskiedenis (insluitend medikasie-rekords) is steeds daar om ’n volledige naspeurbaarheidsrekord te bou. Ook die pasgemaakte waarskuwings vir veranderinge in dieregedrag of kritieke watervlakke bly deel van die pakket.
Verbetering: tuisblad en oorsig
Die “Dashboard” is verbeter om besluitneming te vergemaklik. Troppe se getalle word nou afsonderlik vertoon vir ’n vinniger oorsig. Wanneer jy as boer die stelsel oopmaak, kan jy dadelik sien of daar binne ’n spesifieke trop diere is wat vir ’n dag of langer nie by die skandeerder was nie.
In plaas daarvan om diep in die stelsel te soek vir inligting, is alles nou op die oppervlak beskikbaar. Waar jy voorheen spesifiek na byvoorbeeld dragtigheidsrekords moes gaan soek, het elke dier nou ’n volledige oorsigblad. Jy kan nou vinnig ’n opsomming kry van jou diere, troppe, personeel, liggings, skandeerders en oorplaatjies sonder onnodige klikke.
Verbetering: invoer van diere se data
Baie boere skrik vir nuwe tegnologie omdat hulle dekades se data in ou formate het. Daar is nou ’n nuwe funksie waar Excel-blaaie direk in die stelsel ingelees kan word, wat die oorskakelingsproses na HerdTrack aansienlik vergemaklik.
Tydens die installasie kan boere ’n Excel-templaat aflaai, hul diere se bestaande inligting daarop invul, en dit dan eenvoudig op die HerdTrack-stelsel laai. Voorheen moes rekords dier vir dier ingevoer word, maar nou kan die hele kudde se data gelyktydig opgelaai word. Die stelsel gebruik steeds “verpligte velde” om te verseker dat die data wat opgelaai word volledig en akkuraat is. Rekords kan ook weer in Excel- of CSV-formaat afgelaai word vir administratiewe doeleindes.
Verbetering: skandeerders wat die trop ken
Skandeerders kan nou ingestel word om ’n spesifieke trop se oorplaatjies te herken. Hoewel een skandeerder alle HerdTrack-plaatjies sal optel, sal die sagteware nou aandui wanneer ’n dier nie by daardie spesifieke trop hoort nie.
Dit is ’n groot voordeel wanneer jy beeswerk doen. Jy kan al jou diere gelyktydig by die drukgang hê met slegs een skandeerder; die stelsel sal self die onderskeid tref en die datapunte by die korrekte troppe stoor. Verder kan jy nou self kies of die skandeerder aktief sekere oorplaatjies moet optel of nie, deur dit bloot aan of af te sit na gelang van jou behoefte.
Verbetering: argivering van data (“Retire”-funksie)
Wanneer ’n dier verkoop of geslag word, kan daardie dier se inligting nou geargiveer word. Die data bly vir altyd behoue vir naspeurbaarheid, maar dit word weggesteek sodat dit nie jou huidige, aktiewe kudde se data deurmekaar krap nie.
Verbeteringe: waarna om uit te sien
As jy vandag in HerdTrack belê, koop jy in by ’n stelsel wat deurlopend verbeter. Ons mik in die toekoms na ’n volledige “plug and play”-ervaring om rekordhouding nog makliker te maak. Daar word ook gewerk aan die uitbreiding van medikasie-rekords. Dit sal boere in staat stel om te onderskei tussen algemene behandeling (soos wanneer ’n hele trop gedip word op ’n spesifieke datum) teenoor gespesifiseerde medikasie (soos antibiotika) wat slegs aan ’n individuele dier toegedien is.
HerdTrack ontwikkel saam met die boer, want veerkragtige boerderye het ’n stelsel nodig wat nie stilstaan nie.
Besoek: www.herdtrack.co.za of kontak ons by 018 523 0555.
~ Saamgestel deur René van der Vyver

