HerdTrack by NAMPO 2026

NAMPO 2026 was vir ons ’n uitstekende geleentheid om vertroue by boere te bou. HerdTrack se fokus was om die stelsel aan boere bekend te stel as ’n langtermynvennoot wat groei, ondersteuning en praktiese oplossings vir veeboere bied. Benitta Erlank, ons verkoopsverteenwoordiger, vertel meer…

Hoe was HerdTrack se NAMPO 2026?

Dit was ’n baie suksesvolle week. Ons het die geleentheid gehad om bestaande kliënte en nuwe boere te ontmoet wat by ons kom kuier het. Ons het baie geleer uit boere se terugvoer en om hul praktiese behoeftes op plase beter te verstaan. Terselfdertyd kon ons wys hoe tegnologie reeds vandag boerdery makliker, meer akkuraat en meer winsgewend kan maak.

Die week het vir HerdTrack waarde gebring deur:

  • Nuwe kliënte te ontmoet.
  • Waardevolle terugvoer van bestaande kliënte te ontvang.
  • Kennis op te bou oor waar HerdTrack boere nóg beter kan ondersteun.

Wat was die algemene gevoel onder besoekers?

Boere was baie positief oor die tegnologiese ontwikkeling en die feit dat die koste van die stelsel nie buitensporig is nie. Besoekers het waarde daarin gesien dat HerdTrack praktiese oplossings bied wat spesifiek ontwerp is met die boer se behoeftes as vertrekpunt. Die opsie om ’n praktiese demonstrasie te reël en die stelsel op hul eie plaas te toets, het groot belangstelling gewek.

Was daar baie voete by die stalletjie?

Ons het die voorreg gehad om baie boere te ontmoet en waardevolle verhoudings te bou. Daar was ook goeie netwerkgeleenthede met opleidingsinstansies om die jonger generasie boere bloot te stel aan die rol wat tegnologie in die toekoms van landbou gaan speel.

Verder het ons die geleentheid gehad om insig te kry oor toekomstige ontwikkelinge en behoeftes in die bedryf.

Wat was die vrae wat boere die meeste gevra het?

Met nuwe tegnologie kom daar altyd onsekerheid en vrae oor wat die beste oplossing vir elke boerdery se behoeftes sal wees. Vyf van die mees algemene vrae was:

Wat is die verskil tussen ultra-hoë frekwensie RFID en lae frekwensie RFID?

Dit verskil fundamenteel in die werkingsafstand en seinoordrag, waar ultra-hoë frekwensie RFID uitblink in langafstand-skandering en massa-skandering (groot aantal diere).

Kan ander verskaffers se lae frekwensie oorplaatjies met HerdTrack-skandeerders gebruik word?

Nee. Elke plaatjie is uniek – amper soos ʼn ID-dokument vir die dier – en word herken deur die spesifieke skandeerder waarop dit geprogrammeer is. Die rede hiervoor is omdat die inligting versleutel (“encrypted”) is en omdat ons stelsels gespesialiseerd is om net langafstand, ultra-hoë frekwensie oorplaatjies te lees.

Waar word HerdTrack-skandeerders vervaardig?

Potchefstroom, maar ons bied ondersteuning aan boere landswyd. Alhoewel van die panele ingevoer word, word alles geprogrammeer in Potchefstroom – op die terrein van CFAM wat wêreldklas ingenieurstelsels bou.

Wat is die oplossing indien selfoonnetwerk in ’n area swak is?

Die SIM-kaart kan gekoppel word aan spesifieke netwerke, of ons kan verlengde antennas of rigting-antennas gebruik om die seinopvangs te versterk.

Na watter ontwikkelinge kyk HerdTrack in die toekoms?

Daar word baie planne in die mou gevoer, maar vir nou wil ons die nuwe produkte wat by NAMPO 2026 bekendgestel is, suksesvol uitrol. Ons is ook besig om die moontlikheid te ondersoek om ʼn skaal deel van die HerdTrack-stelsel – of eerder ekosisteem – te maak, sodat die data wat op die skaal verkry word, direk in die stelsel ingevoer kan word.

Watter spesifieke aspek van HerdTrack het die meeste aandag van besoekers ontvang?

Boere was veral beïndruk met HerdTrack se outomatiese telfunksie. Dit help om een van die grootste uitdagings op plase op te los – onakkurate veetelling en die identifisering van diere wat nie teenwoordig is nie.

Die kennisgewingfunksies het ook groot belangstelling gewek. Boere hou daarvan dat die stelsel hulle kan herinner aan:

  • Opvolgdoserings.
  • Dragtigheidsperiodes.
  • Rekordhouding van wanneer diere tussen troppe verskuif is.

Die nuwe handskandeerder, wat tydens NAMPO vir die eerste keer prakties gedemonstreer is, het baie opgewondenheid veroorsaak. Dit het gewys dat HerdTrack verskeie opsies beskikbaar het om by elke boer se unieke behoeftes aan te pas.

Nuwe produkte wat bekendgestel is: Beskryf kortliks die verskillende skandeerders se doel?

Die handskandeerder

Die handskandeerder word deur die boer gebruik om diere te tel, spesifieke diere se inligting na te gaan en data by te voeg. Dit maak dit ook moontlik om mediese behandelings en entings direk aan ’n dier of trop se rekord te koppel.

Die multi-antenna bees-skandeerder

Hierdie skandeerder is ’n statiese eenheid wat by spesifieke punte soos krippe, hekke of gange geïnstalleer word. Dit word gebruik om groot troppe beeste outomaties te skandeer en akkurate getalle van die diere teenwoordig te verskaf.

Die multi-antenna skaap-skandeerder

Die skaap-skandeerder werk op dieselfde beginsel as die bees-skandeerder en word by gange en hekke gebruik om groot troppe skape vinnig en akkuraat te monitor.

Al die verskillende skandeerders versamel data wat op een sagtewareplatform verwerk en bestuur word.

Oplossings wat saam met die boer groei

Elke boerdery lyk anders, en daarom glo HerdTrack daarin om oplossings te bied wat by verskillende behoeftes kan aanpas. Indien daar nuwe uitdagings ontstaan, sien ons dit as ’n geleentheid vir verdere ontwikkeling en innovasie.

Ons wil graag elke boer en besoeker bedank wat HerdTrack tydens NAMPO 2026 ondersteun het en nooi alle boere uit om ’n praktiese demonstrasie te bespreek en self die stelsel op hul plaas te toets.

Besoek: www.herdtrack.co.za of kontak ons by 018 523 0555.

~ Saamgestel deur René van der Vyver

0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop