HerdTrack het baie NAMPO-besoekers se aandag getrek en daarin geslaag om hul aandag te behou deur ʼn opsomming van die produk se belangrikste verkooppunte te gee: HerdTrack bied oorplaatjies vir vee wat met langafstand-RFID-skandering-tegnologie dit vir boere maklik maak om vee getalle en gedrag te monitor. Die skandeerder word deur ʼn klein sonpaneel aangedryf en kan dus enige plek op die plaas opgerig word. ʼn Waterkrip of veekraal is ideaal, want die skandeerder stuur die data (van die vee-eenhede wat water/kraal toe gekom het) regstreeks na die HerdTrack wolk-gebaseerde-stelsel. Die stelsel kan boonop gebruik word om ander data ook vas te vang en is uiteindelik ʼn waardevolle hulpbron om naspeurbaarheid in die vee-bedryf te bevorder.
Alhoewel die bogenoemde ʼn goeie opsomming van HerdTrack bied, is daar na afloop van NAMPO ʼn paar gereelde vrae geïdentifiseer…
Hoe het HerdTrack ontstaan?
Danie Vorster, besturende direkteur van CFAM (waarvan HerdTrack ‘n besigheidseenheid is), het uitdagings in sy eie boerdery ervaar, omdat hy nie voltyds op die plaas kan wees nie. Frustrasies met veegetalle wat nie reg gekommunikeer word nie, en ongewone gedrag van vee wat te laat opgemerk word, het ʼn behoefte vir ʼn stelsel soos HerdTrack by Vorster gekweek. Praktiese plaaskundigheid, tesame met sterk ingenieursvermoë, het tot die ontwikkeling van HerdTrack gelei. Dit is deur CFAM AgriTech (Pty) Ltd ontwikkel, wat deel vorm van die CFAM groep van maatskappye.
Wat is die kostes?
ʼn Volledige stelsel se prys is R26,600 BTW uitgesluit. Die koper kry die hele stelsel – met alles wat nodig is om dit op te stel – in ʼn boks. Dit sluit in: ʼn skandeerder, antenna, sonpaneel, oorplaatjietang, moersleutels, ʼn skandeerder-“bracket” en sonpaneel-“bracket” vir ʼn 50 mm-paal. Die oorplaatjie pryse vergelyk goed met gewone oorplaatjie-pryse: R28 per bees/grootwild oorplaatjie, en R20 per skaap/bok/vark/kleinwild oorplaatjie. Die jaarlikse intekeningsfooi (vir die skandeerder en sagteware se stelselverbinding) is R3200 vir 1 – 50 oorplaatjies of R6000 vir 51 – 500 oorplaatjies.
Hoe werk die toep?
Daar gaan binne die volgende paar weke ʼn HerdTrack toep op iOS en Android beskikbaar wees, maar vir die tussentyd kan boere op ʼn webgebaseerde platform die data bekom en van ʼn afstand monitor. Die stelsel vertoon regstreeks die data van jou vee wat beteken dat jy konstant ʼn verslag van jou diere se getalle en gedrag byderhand het. Kunsmatige intelligensie word ook geïntegreer sodat die stelsel kan optel wanneer die patroon van ʼn dier verander. Sodoende kan die boer gewaarsku word wanneer die gedrag van ʼn vee-eenheid ongewoon is. Dit stel die boer in staat om vroegtydig op te tree wanneer dit blyk asof ʼn dier siek, in kalwing, of gesteel is. Die HerdTrack stelsel kan enige plek in die wêreld werk, want dit is nie gekoppel aan plaaslike netwerke nie. Sein-opvangs is nodig, maar die skandeerder tel die sterkste beskikbare sein in die omgewing op en werk daarmee. Nog ʼn gereelde vraag is of die kostes vir die konnektiwiteit die boer se verantwoordelikheid is en die antwoord is – nee, dit is ingesluit by die jaarlikse intekeningsfooi.
Watter waarde voeg HerdTrack toe tot die behoefte aan naspeurbaarheid?
Vanaf die oomblik wat HerdTrack-RFID-oorplaatjies ingesit word, maak die stelsel omvattende naspeurbaarheid van elke lewende hawe-eenheid moontlik, want dit verbeter deursigtigheid, diefstalvoorkoming en biosekuriteit. Wanneer ‘n dier gemerk word, word al sy bewegings by verskillende skandeerpunte aangeteken, en wanneer dit verkoop of geslag word, kan die stelsel op aanvraag ’n volledige verslag genereer wat die oorsprong en eienaarskapsgeskiedenis van die dier bewys. Op die HerdTrack stelsel kan boere boonop soveel as moontlik bykomende data per dier insleutel. Dit strek van ʼn dragtigheidsrekord (en tydlyn) tot rekordhouding van medikasie toedienings en wat die dier gevoer is. Kom ons kyk na speenkalwers as voorbeeld. Die boer sal tipies vir die kalf by geboorte ‘n plaatjie aansit. Die stelsel stoor dan die datum en tyd – elke keer wat die kalf met die unieke plaatjie geskandeer word deur die spesifieke skandeerder. Die boer kan dan ook op die toep die gewig van die kalf inlees, wat dan gestoor word.
Vrae oor diefstal en bewolkte weer…
HerdTrack is bewus van die uitdagings rondom veediefstal in Suid-Afrika. Daar was boere by NAMPO wat op soek was na ʼn GPS sekuriteitstelsel, maar HerdTrack bied eerder ʼn RFID moniteer en bestuurstelsel. Alhoewel HerdTrack boere tot ʼn mate kan help om vroeër te reageer wanneer diere ongewone gedrag toon, is die stelsel nie ontwikkel om vee-eenhede met ʼn GPS-toestel op te spoor nie, maar eerder om vee-monitering en bestuur te vergemaklik. Boonop word die stelsel teen ʼn paal gemonteer en die skandeerder flikker elke keer wanneer ʼn oorplaatjie opgetel word, wat vir veediewe die indruk kan skep dat dit ʼn veiligheidskamera is. Die sonpaneel laai die battery vinnig vol en die skandeerder trek nie te veel krag wanneer die RFID oorplaatjies gelees word nie. In lig bewolkte weer behoort die stelsel dus steeds genoeg krag van die son te kry om aan te hou werk. Die battery kapasiteit is groot genoeg (mits die trop nie oormatig groot is nie) om minstens 24 uur te hou sonder dat dit gelaai word.
Meer oor die oorplaatjies…
Die oorplaatjies weeg onderskeidelik 17.7 gram (groot) en 6.8 gram (klein). Dit is dus na aan die gewone oorplaatjie grootte en gewig, en het plek vir ander merke. Boere kan versoek om hul eie benaming (nommers/afkortings) van hul vee ook op die bees-oorplaatjie te laser graveer, voor die RFID skyfie ingesit word. Die materiaal van die HerdTrack-oorplaatjie is dieselfde as ander oorplaatjies, so boere kan ook met ʼn pen die oorplaatjie merk soos hy wil. Die unieke HerdTrack nommer wat op die plaatjie voorkom, word die beste beskryf as die dier se “identifikasienommer”. Hierdie nommer word gekoppel aan die uniek ge-enkodeerde nommer van die mikroskyfie. Sou ʼn boer sy huidige benaming van die dier hou vir rekordhouding-doeleindes, dan kan mens daardie benaming as die dier se naam beskou, en die HerdTrack nommer as die dier se ID-nommer. Dit kan ook so vertoon word op die sagteware. Die oorplaatjies word met ʼn standaard tipe oorplaatjietang ingesit.
Hoe kan HerdTrack boere ook help om krip watervlakke te monitor?
HerdTrack het ʼn eenvoudige, praktiese toestel ontwikkel wat boere in hul waterkrippe of damme kan sit met die doel om die watervlak in die krip of dam te monitor. Die instrument prop in by die HerdTrack skandeerder, en sodra ‘n lae watervlak sein ontvang word, word die boer gewaarsku deur die toep. Boere kan dus watervlakke van ʼn afstand monitor deur waarskuwings in te stel vir lae vlakke met ’n voorafbepaalde tydvertraging voor ’n alarm (op die boer se selfoon) geaktiveer word.
Al bogenoemde dui aan dat HerdTrack ʼn waardevolle nuutskepping in die veebedryf is. Wat dit egter nog meer waardevol maak, is die feit dat dit die eerste bekostigbare stelsel is wat relatiewe langafstand skandering – en daardeur monitering – moontlik maak. Die vrae wat tydens NAMPO gevra is, bevestig nie net die veelsydigheid van HerdTrack nie, maar beklemtoon ook hoekom dit geskep is – om praktiese antwoorde op alledaagse boerdery-uitdagings te bied.
**RFID staan vir: radiofrekwensie-identifikasie.
~ Saamgestel deur René van der Vyver

