Boer sê: HerdTrack is op grondvlak getoets om op grondvlak te werk

Daar is iets besonders aan ʼn oplossing wat nie net vir boere gemaak is nie, maar sáám met boere ontwikkel is – en dan boonop op grondvlak getoets is. HerdTrack is presies só ’n oplossing en Malan le Roux, operasionele bestuurder van die ALS Groep, weet dit eerstehands.

Op hul plaas, net buite Potchefstroom, word sowat 500 stuks vee, sowel as kleinvee, bestuur. Hulle gebruik tans die HerdTrack-stelsel op die plaas – maar hulle betrokkenheid het reeds in Januarie 2025 begin, toe hulle een van die toetsplase was. “Omdat HerdTrack hier in Potchefstroom by CFAM Agritech ontwikkel is, kon ons baie vinnig terugvoer gee en oplossings vind, tydens die toetsfase. Dit het verseker dat ons vandag ʼn stelsel het wat werklik vir boere, deur boere gevorm is,” sê Malan.

Die oorgang na die HerdTrack-stelsel was volgens Malan vinnig en eenvoudig. Die skandeerders vir grootvee is op strategiese plekke opgestel, sonder enige sukkel. “Ons kan dit boonop maklik skuif na waar dit nodig is,” sê hy. HerdTrack se oorplaatjies is gemaak van dieselfde materiaal as gewone oorplaatjies, wat beteken dat hulle net hul bestaande oorplaatjietange kon gebruik om dit in te sit. Selfs die kleinvee is suksesvol geïntegreer. “Hier moes ons wel die skandeerder laer stel om beter plaatjie-lesing te kry. Omdat ons dit reeds in die toetsfase kon uitwerk, was dit egter glad nie ’n probleem nie.”

Wat die grootste verskil op die plaas maak, is die feit dat HerdTrack nie net data versamel nie – dit gee ook insig. Die span hoef nie meer daagliks elke dier te gaan tel nie. Die HerdTrack-stelsel doen dit vir jou, en as daar iets ongewoon is, soos ’n dier wat nie water kom drink nie, word daar dadelik ’n waarskuwing gestuur. “Jy spaar tyd en mannekrag, want jy doen geteikende opvolg en jy weet wanneer iets nie reg is nie,” verduidelik Malan. Veral by die skaapkudde is die verskil merkbaar. “Die skaap moet elke oggend uit die kraal gaan en elke aand inkom. Met HerdTrack kan ons maklik die skaapgetalle tot op die nommer bevestig.”

Die stelsel bied egter veel meer as net telvermoë. By die ALS Groep word HerdTrack gebruik vir rekordhouding: dosserings, kalwings, medikasie – alles word op die stelsel aangeteken om naspeurbaarheid te verseker. Daar is selfs ’n bykomende gebruik vir HerdTrack-oorplaatjies op die plaas: werkers kan ’n oorplaatjie in hul sak dra, sodat die bestuurspan kan nagaan of elkeen wel die nodige areas, soos waterkrippe, besoek het. Dis ’n eenvoudige, maar slim manier om kontrole toe te pas, sonder ekstra administrasie.

Wat tegniese uitdagings betref, ervaar hulle min probleme. Die plaas is nie vêr afgeleë nie, so sein is nie ʼn probleem nie. Die sonpaneel se battery hou lank genoeg, en die stelsel funksioneer betroubaar binne hulle omstandighede.

En dan die groot vraag: Was dit die belegging werd? “Definitief,” sê Malan sonder huiwering. “Dis nie ’n buitensporige uitgawe nie, en dit begin vinnig vir homself betaal. Jy spaar op mannekrag en voorkom verliese danksy vroeë waarskuwings oor gedrag wat dalk op siekte of moeilike kalwing dui.” Sy raad aan ander boere is eenvoudig: probeer dit self. Malan sluit af deur te verduidelik dat dit maklik is om HerdTrack in jou huidige veebestuur model te integreer en sodoende jou vee meer effektief te bestuur.

Wanneer ’n oplossing saam met boere ontwikkel word, lei dit tot ’n stelsel wat werklik prakties, doeltreffend en nuttig is op plaasvlak. HerdTrack is nie bloot ’n tegnologiese stelsel nie – dit is ’n hulpmiddel wat boere bemagtig om hul veebestuur en naspeurbaarheid met groter vertroue en insig te benader.

~ Saamgestel deur René van der Vyver

0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop