Biosekerheid in die kollig: vee nie by Nampo 2026, maar HerdTrack is daar.

Die jaarlikse NAMPO Oesdag in Bothaville is lankal nie meer net ‘n kuierplek vir mielieboere nie; dit is die bymekaarkomplek van Suid-Afrika se landboubedryf en waardeketting in geheel. As die grootste en mees invloedryke landbouskou in die suidelike halfrond, het dit in 2025 ‘n rekordgetal van 87 191 besoekers gelok.

Hoewel die naam “Nasionale Mielieprodusente-Organisasie” herinner aan sy wortels in die mielie-driehoek, is die foto’s van Angorabokkies op mense se skote en jong seuntjies wat stip opkyk na massiewe Chianina-bulle, deel van die skou se siel. Met meer as 900 uitstallers op die 40 ha-terrein in 2025, was die bulk en blêr van lewende hawe nog altyd ‘n onmisbare deel van die ervaring.

‘n Leë kraal by NAMPO 2026

Vir 2026 gaan die prentjie egter drasties anders lyk. Graan SA en die bestuur van NAMPO het op 6 Februarie die moeilike aankondiging gemaak: geen gesplete hoefdiere – insluitend beeste, skape, bokke en varke – sal by die 58ste skou vanaf 12 tot 15 Mei toegelaat word nie.

Hierdie besluit spruit uit die kritieke risiko van bek-en-klouseer (BKS), wat in ‘n nasionale krisis ontaard het. Tydens die staatsrede op 12 Februarie is die BKS-situasie amptelik tot ‘n nasionale ramp verklaar. Dit is ‘n bedreiging vir die hele landbou-waardeketting en ons internasionale handelstatus.

Die skuif na digitale naspeurbaarheid

Alhoewel die krale sonder diere gaan wees, sal die telersgenootskappe steeds hul stalletjies beman. Hulle staan voor die uitdaging om ‘n besoekerservaring te skep wat op diere se prestasie data, genetiese voordele en produksiewaarde fokus, sonder dat die dier fisies teenwoordig is. In hierdie nuwe realiteit skuif die fokus onvermydelik na tegnologie.

HerdTrack sal, ten spyte van die afwesigheid van diere, by NAMPO 2026 wees. Ons verwag ‘n toename in navrae van boere wat naarstiglik op soek is na maniere om biosekerheid op hul plase te verskerp en risiko’s te verlaag. In ‘n tyd van kwarantyn en streng bewegingsbeheer, is raaiwerk nie meer ‘n opsie nie.

Een van HerdTrack se sterkste voordele lê in naspeurbaarheid. Die stelsel maak omvattende naspeurbaarheid van elke vee-eenheid moontlik vanaf die oomblik wat die RFID oorplaatjie ingesit word. Dit verbeter deursigtigheid en biosekuriteit dramaties.

Wanneer ‘n dier gemerk word, word sy hele geskiedenis en bewegings tussen verskillende skanderingspunte aangeteken. Dit skep ‘n ouditeerbare tydlyn van waar daardie dier was. Indien ‘n boer ‘n dier wil verkoop of slag, genereer die stelsel gedetailleerde eienaarskap- en naspeurbaarheidsverslae wat die oorsprong bewys. Hierdie tipe data is goud werd vir gemoedsrus en regulatoriese nakoming.

‘n Verantwoordelike pad vorentoe

Ons betuig ons volle steun aan die bestuur van NAMPO, Graan SA en die telersgenootskappe vir hul moedige en moeilike besluit. Dit is na konsultasie met verskeie belanghebbendes geneem om die bedryf op die lang termyn te beskerm.

En hoewel die verkeer wat een keer ‘n jaar in hierdie Vrystaatse dorpie feitlik tot stilstand kom, sekerlik vanjaar nog meer van ‘n uitdaging gaan wees, staan ons bankvas agter die besluit om streng biosekerheid-maatreëls in plek te stel by die toegang. Dit is noodsaaklik dat elke voertuig en enige toerusting wat by dierverwante aktiwiteite betrokke is, deeglik afgespuit en ontsmet word.

Vir die veeboere wat tans onder die emosionele en finansiële druk van die BKS-storm gebuk gaan: ons staan saam met julle. Die pad vorentoe is dalk vir eers sonder diere by die skou, maar dit is nie sonder hoop of oplossings nie. HerdTrack is gereed om boere by NAMPO in te lig oor hoe ons praktiese stelsel kan help om jou kudde vir die toekoms te beveilig.

~ Saamgestel deur René van der Vyver

0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop